DIE BURGER - 2013

Next
IKE MORIZ TOP WEDDING SINGER IN DIE BURGER 2013

MUSIEKSLAAF - VAN HARDE ROCK TOT JAZZ - IKE WIL NET MUSIEK MAAK: DUITSER VIND SY MUSE IN DIE RUSTIGE KAAP

(photo by Natalie Gabriels)

Hy het al skouers ­geskuur met van die grootste name in ­Hollywood en sy eie loopbaan sluit wêreldwye musiektreffers en internasionale fliekrolle in. Rozanne Els het met IKE MORIZgesels.

Jy word ’n slaaf vir die lied. Dit word ’n geestelike ervaring.

Dit is ’n koue Kaapse wintersdag wanneer die musikant en akteur Ike Moriz naby ’n gesellige kaggel in die Hout Bay Manor van sy nuutste rol vertel. Moriz, ’n gerekende musikant wat al 13 albums in ’n wye verskeidenheid genres, van indierock tot jazz, uitgereik het, word na verwagting vandeesweek pa.

Sy vrou, Madri le Roux-Moriz, die verhoogkunstenaar Nataniël se suster, lag saggies wanneer ek vra of Moriz gereed is om wiegeliedjies vir hul babadogtertjie, wat hulle Sophia-Marie gaan doop, te sing.

“Hy sal maar moet! Dit is sy werk om haar aan die slaap te sing.”En sing hy ooit vir Madri?

“Wel, hy sing in die stort...” sê sy met ’n groot glimlag voordat Moriz vertel van ’n liedjie wat hy net die vorige dag vir Madri geskryf het.

Van rock tot jazz

Moriz, oorspronklik van Duitsland, het nie altyd net meesleurende jazzmusiek, soos op sy jongste album, Siren Terpsichore, gemaak nie.

Sy storie begin 20 jaar gelede toe hy in Hamburg ’n rockgroep gestig het. Tussendeur het hy sy mu-siek- en toneelspeelstudies voortgesit in onder meer Dresden en Nederland, asook in Kaapstad as deel van ’n uitruilprogram.

Hy het ’n bekende gesig in musiekblyspele geword en gou rolle in TV-reekse soos Eastenders, Family Affair en The Bill losgeslaan.

In dié tyd was hy ook deel van verskeie rockgroepe. Toe, tydens ’n baie koue winter in 2005 in Duitsland, het hy besluit om vir ’n vakansie na Suid-Afrika terug te keer. Sake het so vlot verloop dat Moriz besluit het om Suid-Afrika sy tuiste te maak.

“In Duitsland het ek soos ’n uitlander gevoel. Hier voel ek goed. Vanaf die eerste keer wat ek my voete in Suid-Afrika gesit het, het dit soos my tuiste gevoel,” sê hy.

Weg van die ego’s

Hoewel dit aanvanklik vir hom lekker was om deel van musiekgroepe te wees, het Moriz gou besluit ’n solo-loopbaan sou sy voorland wees.

“In ’n groep is daar soveel ego’s. Iemand se kitaar moet altyd harder wees of iemand moet ’n langer solo hê. Vir my was dit altyd net oor die musiek en om goeie liedjies te skryf,” vertel hy.

Moriz wou iets bereik en van die oomblik wat hy solo gegaan het, het dinge vinnig gebeur.

“Ek het selfs ’n jaar lank Johannesburg toe getrek omdat almal gesê het dit is waar die aksie is. Maar eintlik was dit net ’n klomp kredietkaarte wat rondgeswaai is. Ek het nie daarvan gehou nie,” sê hy. Moriz is terug na die Kaap en het intussen ook jazzmusiek begin maak.


Wat sou Frank doen?

Moriz vertel hy was ná ’n paar jazzalbums verveeld en wou nie meer ander mense se liedjies sing nie. Hy het besluit om sy eie musiek te skryf. “Jazz-swing”, noem hy dit.

“Ek het gedink, as Frank Sinatra nou moes lewe en musiek maak, hoe sou dit klink?” vertel hy oor sy inspirasie vir die klank van Siren Terpsichore.

“Ek het liedjies geskryf wat tydloos is, met lirieke wat oor 50 jaar steeds relevant sal wees,” sê hy.

As ’n mens na dié album luister, klink dit amper asof hy in jazz sy nis gevind het, maar volgens Moriz is hy nog lank nie klaar met rock nie. Hy beplan om binnekort ’n rockalbum, Breathing Dreams, bekend te stel.

Liedjie uit ’n idee

Sy stem is vir hom soos ’n ledemaat, sê Moriz. “Dalk juis omdat ek so lank musiek maak. Ek het my eerste liedjie in 1994 geskryf. Daar was goeie en slegte tye, maar ek is lief vir musiek,” sê hy.

Vir hom is die mooiste ding die proses in die ateljee wanneer ’n liedjie uit ’n idee ontwikkel.

“Jy word ’n slaaf vir die lied. Dit word ’n geestelike ervaring,” vertel hy.

Vir Madri is daar van Moriz se liedjies wat sy meer liefhet as ander. “Ek kan die rock- en popliedjies waardeer, want dit is anders as enigiets wat ek al gehoor het. Ek is nog altyd mal oor jazz, en die manier waarop hy dit doen, skep ’n perfekte prentjie,” sê sy.

Moriz het ook al in rolprente soos Alfie, Shanghai Knights en Love Actually verskyn en meen hy sal graag weer wil toneelspeel.

Vir nou is hy eers besig om ’n nuwe album te skryf... Dié keer is dit blues. )

Besoek www.ikemoriz.com vir vertoningdatums en navrae.